Dís hoekom Kambazembi-saak gefaal het

Republikein By Elvira Hattingh 25 November 2016

Regters verskaf redes in grondbelastingsage

Die hoërhof het in ’n lywige dokument verduidelik waarom dit ten gunste van die staat téén kommersiële grondeienaars beslis het.

Elvira Hattingh – Die nalating van ’n administratiewe taak soos om landbougrond vyfjaarliks te waardeer, beteken nie grondbelasting kan nie geëis word nie. Boonop kán ’n uitvoerende mag soos die minister van grondhervorming belasting eis.

Die redes waarom grondeienaars se gekonsolideerde saak oor grondbelasting in die hoërhof van die hand gewys is, is op Maandag (21 November) bekendgemaak.

Dit volg nadat die verhoor van die gekonsolideerde sake tussen Kambazembi Gasteplaas, wat grondeienaars verteenwoordig, en die respondente (die ministeries van landbou, water en bosbou, finansies, die grondhervorming se advieskomitee, kommissaris van binnelandse inkomste en die aanklaer-generaal van Namibië) op 1 September begin het. Regters Thomas Masuku en Shafimane Ueitele het die sake behartig.

KONSTITUSIONELE KWESSIES

In die eerste aansoek van 2013, wou die applikant gehad het dat artikels 76 tot 80 van die landbou (kommersiële) grondhervormingswet van 1995 en die regulasies wat daaronder val, strydig met die grondwet verklaar moet word.

Die applikant het aan die hand van die grondwet (artikel 63.2) onder meer betoog dat die wetgewende gesag van belasting by die nasionale vergadering berus en dat uitvoerende magte soos die minister van grondhervorming, nie onafhanklike mag kan hê om belasting op te lê nie.

Hulle wou dus gehad het die relevante artikels in die grondhervormingswet moet ongeldig verklaar word omdat dit aan die minister die mag verleen om wetgewing op te stel – ’n ontoelaatbare vergunning, volgens die applikant. Gevolglik is betoog dat die belastingregulasies in geheel ongeldig is.

Regters Masuku en Ueitele het egter gesê die grondwet dui aan dat die nasionale vergadering die mag en funksie het om “voorsiening te maak” vir inkomste en belasting. Volgens die woordeboek beteken om “voorsiening te maak” ook dat iemand toegerus kan word om dit te doen. Gevolglik het die hof bevind dat dit regmatig was om ’n uitvoerende mag toe te laat om belasting te eis en die grondhervormingswet nie met die grondwet bots nie.

NALATING VAN TAAK ONTNEEM NIE MAG

In sake A21/2015 en A197/2015 is aansoek gedoen om die grondwaardasie van die 2013-14 en 2015-16 boekjare tersyde te stel omdat die applikant van mening is dat geen geldige waardasierol toe bestaan het nie nadat die vorige verval het. Die hof het egter bevind dat die applikant nie genoegsame feite gegee het oor waarom die waardasies teenstrydig met die wet of ongrondwetlik en irrasioneel is nie. Die hof sê ook dit stem saam met respondente dat die nalating van ’n administratiewe taak binne ’n gegewe tydperk nie ’n administratiewe beampte van sy mag of plig ontneem nie.

“Indien geen nuwe waardasierol ’n vorige opvolg nie, beteken dit die minister kan nie grondbelasting eis nie? Wat dan van grondeienaars se plig om jaarliks belasting te betaal asook dat daar voorsiening in die wet gemaak word dat ’n bestaande rol slegs vervang word wanneer ’n nuwe rol deur die waardasiehof goedgekeur is?

Die regters het gesê die applikant het nie bewyse ingedien dat die voortgesette gebruik van die 2007-13 waardasierol tot vooroordeel teenoor grondeienaars sal lei nie.

“Ons stem dus nie saam dat die minister buite sy mag opgetree het toe dié rol gebruik is om grond te waardeer vir die grondbelasting van opvolgende jare nie.”

WETWYSIGING SKEP NIE NUWE REGIME

In saak A234 van 2015 het die applikant gevra dat sekere wetswysigings deur die regering in die hof nietig verklaar moet word. Dit het behels dat die minister van grondhervorming in 2015 ’n wetswysiging in die staatskoerant publiseer het, waarvolgens waardasierolle nie meer vyfjaarliks sal verstryk nie, maar vir ’n onbeperkte tyd geldig sal wees en slegs sal verstryk sodra dit deur ’n nuwe rol vervang word.

Die applikant het betoog die wetswysiging is retrospektief van aard, ontneem grondeienaars van hul regte, is ongrondwetlik en maak die afdwing van grondbelasting nog meer onvoorspelbaar.

“Ons het reeds bevind dat indien die grondhervormingswet in konteks beskou word, verval ’n waardasierol slegs sodra ’n nuwe deur die waardasiehof goedgekeur word. Die wetswysiging bekragtig dié begrip en verander nie aan die feit dat die wet steeds voorskryf dat die minister landbougrond vyfjaarliks moet waardeer of die proses waarvolgens dit gedoen moet word nie. Dit skep nie ’n nuwe regime vir grondbelasting nie en verwoes ook nie die bestaande een nie.”

In die laaste saak het die applikant betoog die huidige waardasierol en kennisgewing van 1 Julie 2016 vir die sitting van die waardasiehof is ongeldig. Die hof het egter beslis dat die voorlopige waardasierol van 2012 steeds geldig bly en dat regter Elton Hoff nie die voorlopige waardasierol in September 2013 tersyde gestel het nie, maar eerder gesê het die korrekte prosedure is nie voor die waardasiehofsitting gevolg nie.

Mnr. Charlie Bodenstein, wat namens Constitution Watch optree, het onlangs gesê grondeienaars beplan om teen die uitspraak te appelleer.

By Natasha