Dringende aansoek om waardasieproses te stuit

Republikein By Estelle de Bruyn 04 September 2013

Estelle de Bruyn - Die omstrede waardasieproses en die sogenaamde waardasiehof wat sedert Vrydag nie aan die gang kon kom nie, is gister in die hoërhof deur Kambazembi-gasteplaas wat handel dryf as Waterberg Wilderness, by wyse van 'n dringende aansoek uitgedaag.

Die minister van grond en hervestiging is die eerste respondent gevolg deur die ministers van landbou, water en bosbou asook finansies; die voorsitter van die grondhervorming raadgewende kommissie; die ontvanger van inkomste; die prokureur-generaal en die waardasiehof.
Dr. Pieter Henning wat namens die aansoekers opgetree het, het die hof daarop gewys dat verskeie wetlike bepalings nie nagekom is met die bepaling van die waardasies van plase nie. Geen aanvaarding vir die belasting by wyse van 'n resolusie is van die Nasionale Vergadering gekry nie.
Boonop is dit “ministeriële belasting” wat gehef word, wat ongeldig is omdat dit nie rekening hou met die grondwetlike beginsel dat belasting deur die wetgewende gesag (parlement) en nie die uitvoerende gesag (minister) gehef mag word nie.
Die datums wat in die Staatskoerant van 1 Julie vanjaar vir die sitting van die waardasiehof gepubliseer is, naamlik “van 30 Augustus tot 2013 September 2013” is volgens hofstukke onverstaanbaar en maak die kennisgewing gevolglik ongeldig.
Boonop was die Staatskoerant eers teen 5 Julie vanjaar vir die publiek beskikbaar terwyl die kennisgewing daarin aandui dat dit vanaf 1 tot 30 Julie 2013 beskikbaar sal wees. Dit is volgens Henning verdere bewys dat die kennisgewing ongeldig is.
Die feit dat diegene wat kapsie maak teen die waardasierol vanaf 30 Augustus tot 13 September vir verblyf in Windhoek moet betaal, regsverteenwoordiging vir die hele tyd moet verseker en hul ondernemings moet verlaat en gevolglik onproduktief is vir die tydperk, is 'n verdere rede tot kommer.
Met die veronderstelling dat net 1 500 mense beswaar maak teen die waardasies, sal dit meebring dat in die aangeduide tyd vir die sitting van die hof elke klaer net drie minute tyd sou hê om sy of haar saak te stel.
Henning gee ook in die hofstukke 'n uitvoerige beskrywing van Vrydag en Maandag se verwikkelinge. Dit was toe die waardasiehof vergader het sonder die teenwoordigheid van een van die waardasiepaneel se lede, wat onwettig deur 'n ander persoon vervang is.
Maandag het landdros John Sindano erken dat die waardasiehof inderdaad nie behoorlik gekonstitueer is nie en dus bloot 'n voorlopige hof is en dit eers teen volgende Maandag moontlik sal wees om die hof behoorlik te konstitueer.
Henning het aangevoer dat alle moontlike maniere om verligting te kry vir sy kliënte sonder welslae was; dat hulle “ongrondwetlike en onderdrukkende gedrag van 'n brutale burokrasie” asook “'n uitgerekte miskenning van fundamentele grondwetlike regte” ondervind.
Die regsverteenwoordiger wat namens die respondente opgetree het, mnr. Matti Asino, het gekla dat hulle te min tyd gegun is om voor te berei en selfs om 'n opdrag van die kliënte te ontvang. Hy was van mening dit sou onregverdig vir die hof wees om op grond van eensydige getuienis van die aansoekers, 'n besluit te neem.
Regter Elton Hoff het in sy beslissing opdrag gegee dat die respondente môre nie later as 16:00 hul beantwoordende verklaring moet indien nie. Die klaers moet hul beantwoordende verklaring Vrydag nie later as 16:00 indien nie. Die hof sal Maandag om 09:00 vir die verhoor hervat.

Lees oorspronklike artikel hier

By Gerrit Vermeulen